Tannie Ella Huis

Die hart van ‘n huis… hier is baie liefde en gebede. Dit is ‘n kuierplek, dinkplek, bidplek. Die plek waar dinge begin en kinderharte kan blom.

Tannie Ella is vanjaar geseën met ‘n huisie van haar eie, ‘n groot droom wat waar geword het na meer as 65 jaar. Sy versorg haar drie agterkleinkinders en is só nog steeds besig om haar omgee-hart vir kinders uit te leef. Tannie Ella het 11 jaar gelede gehelp om ons organisasie te begin en is vandag steeds deel van Ma’s-vir-Wellington. Wie sou ooit kon droom dat die bietjie wat tannie Ella destyds gegee het, soveel méér kon word?

Dit laat my dink aan die verhaal van die broodjies en vissies. Gee dit wat jy in jou hand het, al is dit hoe klein, vir die Here. Hy verheerlik dít wat jy gee, maak dit meer en gebruik dit om Homself te verheerlik. Hy is goed en wanneer ons Hom vertrou in die kleine, dan gee Hy ons soveel meer.

Die storie het 11 jaar terug begin: 2 gewone vroue, verskillende ouderdomme, kulture en agtergronde…. maar een gemeenskaplike omgee-hart. Ella het kom vertel hoe swaer die kinders in haar omgewing kry. Sy kon net ‘n stukkie droë brood gee toe die kinders wéér kom vertel hoe honger hulle is en hoe moeilik dit is om te slaap. Ek het op hierdie stadium reeds 10 jaar in Wellington gebly en was nie bewus van die armoede en honger wat aan die kant van ons pragtige dorpie aangaan nie. Ella het my oë kom oopmaak met haar sagte moeder-hart, vertel van die swaarkry en hongerte en hoe sy self net met ‘n stukkie droë brood kon help! Sy het my altyd herinner hoe goed God is en dat Hy áltyd voorsien.

Ons het klein begin: Ella se houthok-huisie en 23 kinders met loop neusies en stukkende vuil klere. Hulle het gretig enige kos kom haal wat ons aangebied het. Na ‘n paar keer se besoek en kos uitdeel, het ons lae tafeltjies gemaak met ou kratte en houtplanke. Ella, met haar agtergrond as Sondagskool juffrou, het vir die kinders “kerk” gehou voor ons hul iets gegee het om te eet. Die kinders se getalle het gegroei en klein potte moes plek maak vir potte wat vir 500 kinders kon kos gee. Dit was soms moeilike omstandighede om die groot hoeveelheid kinders te hanteer asook hulp te kry in kos- sowel as finansiële skenkings. Party keer moes ons man-alleen staan en kos skep vir 500 honger kinders wat skaars hulle beurt kon afwag. Ons moes onsself telkemale herinner aan die beloftes van die Woord wat sê: “wees getrou in die kleine”. Hierdie projek was verseker nie iets wat ons vir mense gedoen het nie, maar slegs vir ons Vader wat ons harte so aangeroer het vir die nood by die kinders.

Na ‘n paar jaar se voeding en bediening, het ons besef dat die inpak wat ons op die kinders se lewens wou sien, nie net by kos kon bly nie. Ons moes hulle met die Lewende Woord bedien sodat hulle omstandighede kon verander. Die Woord sê tog: “mens kan nie van brood alleen leef nie, maar van elke Woord wat kom uit die mond van die Vader.

Só het Vader ons gelei om te begin fokus op die grondslagfase kinders, ouderdomme drie tot ses jaar. LIEFDE was die antwoord: gee liefde, drukkies, vee neusies af, sit pleisters op seerplekkies. Lag, dans en leer speel-speel uit die Woord. Leer vaardighede en versorg die kinders soos ‘n mamma sou, met ‘n hart vol liefde en omgee.

Leave a Comment