Margie en Selma huis

As die Here die Huis nie bou nie, swoeg die een wat daaraan werk tevergeefs.

Oor haar nuwe tuiste is gespreek: Jou huis gaan ‘n lighuis wees. Die Here gaan jou gebruik, want hierdie huis kom nie van ‘n mens nie, maar van die Here. Margie se droom was om vir haar en haar kinders ‘n veilige blyplek te kon skep waar hulle gelukkig kan wees. Tog het sy vir jare in uiterste armoede in ‘n saamgeflanste houthok gebly.

Margie was jare terug deel van die Ma’s-vir-Wellington program. Sy het daarna deel geword van die Thabisa groep waar sy nou al twee jaar ‘n pad met haar mentor, Selma van Rooyen, stap.

Stap ‘n pad van aanspreeklikheid…

Die Thabisa program is geskep om waardes vanuit ‘n Christelike waardesisteem neer te lê vir vrouens wat uit mishandelde verhoudings kom. Hierdie ondersteuningsnetwerk is suiwer gegrond op die Woord van die Here. Hier word ‘n pad van aanspreeklikheid gestap sodat die vroue duidelik kan verskaan wat die Here se plan vir hulle toekoms is.

Slegte omstandighede…

Weens familiestruwelinge, was Margie gedwing om na haar ma se dood, in ‘n houthok buite haar ouerhuis te slaap. Dit het beteken dat hulle uiterste temperature, snikheet tot nat, modderige omstandighede moes trotseer. Sy het vir jare geworstel en vir die Here gesmeek om hul lewensomstandighede te verander. Sy het aanhou vra. Nou is dit haar tyd om dankie te sê vir alles wat sy ontvang het.

Die bouspan word geroep…

Die weervoorspelling was sonnig vir ‘n volle 10 dae. Op dag 5 is daar egter ‘n 100% kans vir reën voorspel – iets waarvoor die hele Wes-Kaap al vir jare voor wag. Dit was die dag waarop die span geroep is om Margie se huis te bou. Planne is gemaak vir uitstel, maar die Here het die laaste woord oor Sy plan gehad. Die reën het uitgesak soos in belofte van die Here se guns oor Margie se lewe. Die bouspan het onvoorwaardelik, ten spyte van die reën, kom help en het deur die loop van die dag vermeerder soos hulp nodig was. Selfs Margie se twee seuns het fluks gehelp met van die kleiner werkies.

Ons het net weer besef hoeveel Margie vir God werd is. Alles wat die Here doen is met uitnemendheid. Alle boumateriaal, dakplate en huisinhoud was splinternuut. Op hierdie manier herinner die Here ons hoe Hy te werk gaan as Hy ons “nuut” kom maak.

Sien God se hart…

Margie het beleef dat sy vir die Here so spesiaal was, dat hy mense oor haar pad gestuur het om vir haar ‘n huis te bou in die plek waar haar houthok eens gestaan het. Hulle het vir die eerste keer warm en veilig geslaap.

Leave a Comment